TWEE KLEUTERS IN DIE VONDELPARK

Twee kleuters in die Vondelpark bly staan

'n klein oneindigheid land hand-in-hand.

 

Smetloos geteken dryf die dubbelswaan:

gesplete hart van hals en dubbelhals,

geskulpte vlerk met dubbelvlerk teenaan,

geslote snawel dynserig vervals

met eenkant lug en water anderkant.

 

Versadig van die roerlose gesig

pluk hy-die seuntjie-plotseling aan haar hand

vir verdergaan, sleep haar tot ewewig

as sy nog strompelend omkyk na die swaan.

 

Verby die bome druis die straatrumoer.

 

Van skopfiets tot trapfiets gepromoveer,

bromfiets tot motor, sal hy konstateer

-die wiel sy odeteken-dat hy lid

is van die kollektiewe Lilliput.

 

Maar sý sien webbe onderwater roer.

 

Miskien is dit die laaste dag van staar

en grondelose verwondering.  Wat sou

hý, weerloos wordend, wees oor dertig jaar?

'n Saaklike barbaar, 'n fyn sadis,

'n doktrinêre Hollandse meneer?

En sý 'n druk slagvaardige mevrou

met 'n allure van dít-is-soos-dit-is?

 

Die swaan bly oor sy dubbelbeeld gekeer.

 

Elisabeth Eybers

(Human & Roussseau - Tafelberg)